Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS - SONDAG – 03 AUGUSTUS 2008

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word.

Oudio is ook beskikbaar via die web www.sarl.org.za; klik op ARMI en volg die koppelings soos aangedui. Vir oudio via Echolink koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie - en vorige bulletins - kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vanoggend is (Naam en Roepsein), vanuit Pretoria met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB asook, 51,400, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

STIL SLEUTELS

Dit is met leedwese dat SARL-nuus moet bekend maak dat die sleutels van twee radioamateurs onlangs stil geraak het. Hulle is:

Willem Alberts, ZS6WA, op 13 Mei. Hy word oorleef deur sy eggenote Mariaan, ZS6TX.

Ross Thom, ZS6FV, op 27 Julie. Hy word oorleef deur sy seun Mike, ZS6BBD, dogter Maria, ZR6MST, en skoondogter Gerda, ZR6MEV.

Ons innige meegevoel aan die familie en vriende van die afgestorwenes.

(POUSE)

In die nuus vandag:

HERHALERLISENSIEAANSOEKE – STUUR JOU AANSOEK DIREK AAN NICO VAN TONDER, ZS6AQ

OKOSA WERK AAN TABEL VAN FREKWENSIETOEKENNINGS

SARL SE HF-FOONWEDSTRYD VANAF 15:00 VANMIDDAG

CQ OLIMPIESE SPELE

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

HERHALERLISENSIEAANSOEKE, STUUR JOU AANSOEK DIREK AAN NICO VAN TONDER, ZS6AQ

Ten einde die verwerking van herhalerlisensieaansoeke te bespoedig, moet alle dokumentasie direk per geregistreerde pos, aan die sameroeper van die SARL se BHF-Bandbeplanning- en Kompetisiekomitee, Nico van tonder, ZS6AQ, gestuur word. Deur dit te doen sal baie weke van vertraging uitgeskakel word. OKOSA aanvaar wel e-posafskrifte van aansoeke, maar vereis oorspronklik ondertekende dokumentasie. Die faksopsie is onsuksesvol bevind aangesien die dokumentasie dikwels onleesbaar was.

Met die nuwe proses sal die BHF-Bandbeplanningskomitee alle aansoeke direk na ontvangs oorweeg en die verwerkte aansoeke direk aan OKOSA by hulle kantore indien. Nico se adres is Biddystraat 702, Moreleta Park, 0044.

OKOSA WERK AAN TABEL VAN FREKWENSIETOEKENNINGS

OKOSA se Algemene Bestuurder vir Ingenieurswese het Vrydag die SARL meegedeel dat hulle werk aan ‘n tabel van frekwensietoekennings waarin vorige onakkuraathede reggestel is en nuwe toekennings oorweeg is. Die SARL is verskeie weke gelede versoek om met die amateurtoekennings behulpsaam te wees as deel van die hersieningsoefening wat deur die Elektroniese Kommunikasiewet vereis word. Hy het ook bevestig dat alle radioregulasies, insluitende dié van toepassing op amateurradio, na gekyk word, en, waar nodig, hersien word. Die SARL verwag om binne die volgende twee weke insae te verkry in die voorgestelde verbeterings en wysigings.

Dit is geskeduleer dat die SARL die Departement van Kommunikasie eerskomende Dinsdag sal ontmoet.

SARL SE LIDMAATSKAPHERNUWINGS REEDS BYNA EENDUISEND

Die hernuwings van die SARL se lidmaatskap vir die 2008/2009 finansiële jaar nader die eenduisendmerk. Baie dankie aan almal wat hulle hernuwings ingestuur het. Indien joue nie een van die negehonderd-en-negentien is wat teen Vrydag verlede week ontvang is nie, wend asb. ‘n spesiale poging aan om hierdie week te betaal of aan te sluit en help ons om voor die einde van die week die duisendmerk oor te steek.

Alle hernubare of nuwe subskripsies wat voor 31 Augustus 2008 ontvang word, is onderhewig aan ‘n korting. Jy betaal slegs R305 en nie die nuwe tarief van R320 wat vanaf 1 September van toepassing sal wees nie. Senior lede betaal slege R184 indien betaling voor 31 Augustus geskied. Na daardie datum styg dit na R200. Kontak Vee Antal by 011 675 2393 vir betalingsbesonderhede. Alle volopbetaalde lede sal ‘n lidmaatskapsertifikaat vir 2008/2009 ontvang. Indien u nognie ‘n lid is nie, sluit nou by die SARL aan en versterk die krag van jou stem by die owerheid.

CQ OLIMPIESE SPELE

Die lisensie vir die spesiale gebeurtenis amateurradiostasie vir die Beijing 2008 Olimpiese Spele is deur die Beijing Organiserende Komitee vir die Spele van die 29ste Olimpiade en die Staastradioreguleringskomitee goedgekeur. Vyf roepseine sal gebruik word nl: BT1OB, BT1OJ, BT1OH, BT1OY en BT1ON, wat die vyf simbole van die Beijing Olimpiese Spele verteenwoordig. Die tema is: “Een wêreld een droom”. Die stasie sal tot 17 September op die lug wees. Die QSL-bestuurder is BA4EG. Vir meer inligting, besoek http://www.bj2008ses.com.cn.

KOMPETISIENUUS

SARL SE HF-FOONWEDSTRYD VANAF 15:00 VANMIDDAG

Geniet pret en neem vanmiddag, Sondag 3 Augustus vanaf 15:00 tot 18:30 SAT deel aan die HF-ESB-kompetisie van die SARL.

Die frekwensies wat gebruik mag word is 14 125 tot 14 350 kHz, 7 043 tot 7 100 kHz en 3 603 tot 3 680 kHz. Daar is verskeie kategorieë waarin deelgeneem kan word. Hulle is as volg:
a) Enkeloperateur, Alle bande, Laekrag (maksimum 100 W);
b) Enkeloperateur, Enkelband, Laekrag (maksimum 100 W);
c) Enkeloperateur, Alle bande, Hoë krag, tot wetttige perk;
d) Enkeloperateur, Enkelband, Hoë krag,tot wetttige perk;
e) Multioperateur, Alle Bande, krag tot wettige perk;
f) Multioperateur, Enkelbande, krag tot wettige perk;
g) Kortgolfluisteraar (KGL).

‘n RS-rapport en volgnommers, beginnende met 001, word uitgeruil.

Vir volledige besonderhede, raadpleeg die die SARL se Kompetisiehandboek wat op www.sarl.org.za beskikbaar is, kies “activities” en klik op “contests”. Volledige besonderhede aangaande ander kompetisietoekennings kan ook daar gevind word.

Die kompetisie is oop vir alle gelisensieërde radioamateurs asook kortgolfluisteraars.

Alle deelnemers, wat lede van die SARL is, en wat ‘n logstaat vir 20 of meer kontakte indien, sal deelneem aan ‘n gelukstrekking vir ‘n 2008 ARRL-handboek.

SARL 40 METER MOBIELE KOMPETISIE EN “SHACK-IN-A-SACK" AKTIWITEIT

Op Sondag 10 Augustus sal die SARL 40 Meter Mobiele Kompetisie en 'Shack-in-a-Sack" aktiwiteit op die lug wees vanaf 15:00 tot 17:00 SAT. Die 'Shack-in-a-Sack' is 'n nuwe idee voorgestel deur Eddie, ZS6BNE. Jy benodig 'n kompakte veldstasie - 'n radio, kragbron en antenna - wat in 'n sak of tas pas, en wat jy dan weg van jou motor sal opslaan.

Jy kan deelneem as ‘n mobiele stasie [stilstaande mobiel], ‘n veldstasie [“shack-in-a-sack”] of ‘n vaste stasie. In die mobiele opset, moet die antenna aan die romp van die voertuig geheg wees. Die veldstasie moet ten minste een kilometer vanaf jou voertuig opgestel word.

Jy ruil jou roepsein en 'n RS-verslag uit. ‘n Log en opsommingsstaat sal in die week beskikbaar wees op die ‘Contest’-bladsy by www.sarl.org.za. Die sluitingsdatum vir jou log is 25 Augustus en moet gestuur word aan Boland ARK, Posbus 273, Strand, 7139 of per e-pos aan zs1bak@mailbox.co.za.

KLUBNUUS

NUWE KLUBKOMITEE

Die Kaapstad Amateurradiosenter se AJV is op 27 Julie gehou en die volgende lede is tot sy komitee en uitvoerende bestuur verkies:
Voorsitter - Shaun Overmeyer, ZS1RA;
Visevoorsitter - Evan Pedlar, ZS1EVP;
Sekretaris/Tesourier – Peter Henochsberg, ZS1PMH;
Ander komiteelede: Dave Reece, ZS1DFR, Noel Futter, ZS1FW, James Gardner, ZS1ROY, Tony McEwan, ZS1TM, Paul Kennedy, ZR1PXL and Danny Blankenberg ZS1BL.

Die klub, en die SARL, wens die komitee voorspoed toe in die nuwe jaar en bedank die uittredende voorsitter, Dave, ZS1DFR, vir die voortreflike taak wat hy gedurende die afgelope vier jaar verrig hert.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal oor die algemeen stil wees tot 6 Augustus waarna dit aktiewe vlakke gaan bereik tot 9 Augustus. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees. Die verwagte DX-toestande is goed vir die Noordelike rigtings maar vrotterig vir die hoofsaaklik Noord-Westelike paaie.

20 m is die beste keuse vir DX met moontlike flou 20 m-openinge vanaf 16:00 SAT na Indië. Daar is 'n moontlike flou 40 en 80 m-openinge na Nieu-Zeeland om 20:00. Andersins gaan kontakte met Australië en Nieu-Zeeland baie uitdagend wees. Vanaf ongeveer 16:00 is daar moontlike 20 m-openinge na Europa. Kontakte met die VSA gaan baie uitdagend wees.

10 MHz lyk laatmiddag en na sonsonder bruikbaar vir die Morsekode- en digitale entoesiaste.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees, veral vir vanmiddag se SARL-HF-foonwedstryd. 80 m behoort gedurende die oggende en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate oor die langer afstande lewer.

Saans is 80 m die beste keuse,veral noudat die meeste donderstorms en statiese steurings agter die rug is. 160 m gaan ook baie bruikbaar wees.

Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF jou steeds kan verras. Skakel jou stel aan,luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

3 Augustus, dit is vanmiddag - SARL HF-Foonkompetisie;
10 Augustus - SARL 40 Meter Mobiele en "Shack in a Sack" Kompetisie;
17 Augustus – INTEGNET;
31 Augustus – Laaste dag vir betaling van ledegelde teen korting;
13 September – RTA Gauteng by NAR;
3 Oktober – JD-toer van SA begin.

SARL nuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radio-amateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoriagebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 590 kHz. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur George, ZS6NE, saamgestel is.

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003